Hou Toegewyde Status Instand

English Text

Lees die volteks van die NHSA se beleid oor Instandhouding van Toegewyde Status HIER

Vanaf 1 Januarie 2017 is die Finale Rapporteringsdatum vir indien van jaarlikse toegewyde aktiwiteitsverslae 30 November

Hierdie datum vervang alle verwysings na 31 Desember in enige ander amptelike stukke van die NHSA wat op instandhouding van toegewyde status betrekking het

Vir 2017, word alle toegewyde aktiwiteite waaraan toegewyde lede tussen 1 Januarie 2017 en 30 November 2017 deelneem, vir instandhouding van toegewyde status vir 2017 en vir behoud van NHSA toegewyde status tot 30 November 2018, in ag geneem.

Vir 2018 se behoud van toegewyde status sal alle aktiwiteite waaraan toegewyde lede tussen 1 Desember 2017 en 30 November 2018 deelneem, in ag geneem word, wat terselfdertyd behoud van lede se toegewyde status tot 30 November 2019 sal verseker.

Daarna is die rapportering van toegewyde aktiwitiete gebonde aan 'n siklus van 1 Desember to 30 November die volgende jaar.

30 November as afsnydatum is belangrik omdat NHSA op 31 Desember jaarliks aan SAPD verslag moet lewer oor sy toegewyde lede se voldoening aan wettelike vereistes (sien Regulasie 4(2)(b))

-------------------

SLEGS TWEE STAPPE OM VOLDOENING AAN BEHOUD VAN TOEGEWYDE STATUS BY NHSA TE VERSEKER

STAP EEN:  Verseker jou lidmaatkap by NHSA is op 30 November van die betrokke rapporteringsjaar opbetaal

STAP TWEE:  Rapporteer enige DRIE van die aktiwiteite wat hieronder aangedui word, in enige kombinasie, wat verband hou met die betrokke toegewyde status waaroor jy beskik, deur die aktiwiteit op die "Activities" blad van jou Persoonlike Natshoot Profielblad voor 30 November van die betrokke rapporteringsjaar, aan te teken (lees asseblief HIER as jy nie weet hoe om aktiwiteite op jou persoonlike profielblad aan te teken nie)

NOTA:  Toegewyde lede wat oor beide toegewyde jagter- en sportskutstatus beskik, hoef ook slegs enige Drie van die hieronder aangeduide aktiwiteite, in enige kombinasie, in die rapporteringsjaar aan te teken

Die rapporteringsproses is dus eenvoudig; deur jou status vir 'n betrokke jaar instand te hou, verseker jy behoud van jou toegewyde status ook tot op 30 November die volgende jaar

-------------------

BY NHSA ERKEN ONS ALLE PERSOONLIK VUURWAPENVERWANTE AKTIWITEITE WAARAAN ONS TOEGEWYDE LEDE DEELNEEM VIR INSTANDHOUDING VAN TOEGEWYDE STATUS

  1.   NHSA Posskiete (Tellings word op lede se "Scores" blad ingeskryf);
  2.   NHSA jaarlikse nasionale posskietkompetisie  (Tellings word op lede se "Scores" blad ingeskryf);
  3.   Bywoon van enige vuurwapen-, jag-, en of sportskietverwante Expo of skou;
  4.   Jag- en/of sportskietverwante ladingontwikkeling;
  5.   Herlaai van jag- en/of sportskiet rondtes;
  6.   Bywoning van enige herlaaikursus;
  7.   Bywoning van enige jag- en/of sportskietverwante vergadering of byeenkoms;
  8.   Deelname aan 'n jag (haar- of veerwild); 
  9.   Uitdunning van wild;
  10.   Beheer van Skade Veroorsakende Diere; 
  11.   Jaghondopleiding;
  12.   Bywoon van 'n jagtersopleidingkursus (veer- of haarwild); 
  13.   Bywoon van 'n sportskietverwante kursus; 
  14.   Aanbied van 'n jag- en/of sportskietverwante kursus vir geen vergoeding; 
  15.   Instel van die teleskoop van 'n jag- en/of sportskietvuurwapen voor die jag of deelname aan 'n sportskietkompetisie; 
  16.   Formele Nie-NHSA sportskietkompetisies;  
  17.   Formele Nie-NHSA sportskiet geleenthede by enige skietklub of ander vereeniging; 
  18.   Enige ander sportskietverwante aktiwiteite

Ons vra slegs dat lede asseblief hulle aktiwiteite onder die korrekte indieningshoof soos hieronder aangedui, sal aanteken.  Maak dus asseblief seker dat jy die detail van elke inskrywingshoof hieronder lees en neem kennis van die voorbeelde van die bewyslas wat by elke inskrywing ingedien moet word.

-------------------

BASIESE BEGINSELS:

Die aangetekende toegewyde aktiwiteit moet onder alle omstandighede:

- streng binne die wet geskied (het);

- duidelik vuurwapenverwant wees - met slegs vuurwapens beskryf in Artikel 13, 15 and 16 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000);

- duidelik jagverwant of duidelik sportskietverwant wees.

NHSA aanvaar die woord van sy lede bo alle twyfel. 

SAPD het egter aangedui dat hulle verifieerbare bewyslas by aktiwiteitsinskrywings sou wou sien omdat dit die lid se deelname aan die betrokke aktiwiteit bo enige twyfle bevestig.  Onthou NHSA se prosesse is alles elektronies en dit is die enigste wyse waarop ons lede se aktiwteite verantwoordbaar kan goedkeur, omdat ons nie soos ander verenigings takke het waar deelname onderling deur lede bevestig kan word nie. 

Vir NHSA om dus lede se aangetekende toegewyde aktiwiteite goed te keur, moet elke aktiwiteitsinskrywing gepaardgaan met aanbod van bewysdokumente wat deelname aan die aangetekende aktiwiteit bevestig (bewyslas moet in 'n hof kan "staan").  Bewysdokumente moet in PDF-formaat geskandeer word of in 'n foto-formaat aangebied word (bv. 'n selfoonfoto waarop datums van aktiwiteite altyd aangedui word, hetsy op die foto self, of op 'n kaart of papier in die onderwerp van die foto - 'n foto van 'n jagter by 'n rooibok of van 'n skut by 'n teiken is dus niksseggend omdat die foto op enige dag enige plek geneem kon gewees het).

-------------------

NEEM KENNIS VAN DIE VOLGENDE:

1.   Meervoude van teikens wat op een dag geskiet word (al is dit met verskillende vuurwapens en kalibers) word gereken as een aktiwiteit, omdat dit nie die aantal teikens is wat die aktiwiteit vergestalt nie, maar die feit dat die lid op daardie dag op die skietbaan was wat die aktiwiteit verteenwoordig;

2.   'n Jag wat oor een dag plaasgevind het, tel as een aktiwiteit;

3.   'n Jag wat oor meervuldige dae plaasgevind het, word in twee-dag-eenhede as een aktiwiteit bereken (datum van huis vertrek en datum na huis vertrek ingesluit - 5 dae tel as 3 aktiwiteite);

4.   Lede kan tot drie dokumente by elke aktiwiteitsinskrywing aanheg (die stelsel dien dus ook as rekordhouding vir die lid self);

5.   Toegewyde lede is welkom om jaarverslae wat hulle by ander geakkrediteerde verenigings ingedien, as bewyslas vir aktiwiteite aan te bied.  Alhoewel die aanbied van sodanige verslag op sigself nie as voldoende bewys van die aktiwiteit gereken kan word nie, tensy die aktiwiteit nie duidelik deur die ander vereniging as geverifieerd aangedui kan word nie.  Die redes vir hierdie voorskrifte kan hier HIER afgelees word;

6.   Gebruik jou aktiwiteite verslag as meer as slegs voldoening aan die vereistes vir instandhouding van toegewyde status, omdat bewys van gebruik van vuurwapens baie belangrik is by aansoek vir nuwe lisensies of vir hernuwing van lisensies.  Lees HIER hoekom dit so is;  

7.   Spesiale nota vir Toegewyde Jagters wat ook Professionele Jagters is:  Regulasie 4(e)(ii) verbied geakkrediteerde jagtersverenigings om toegewyde jagterstatus aan sy lid toe te ken as die vereniging daarvan bewus is dat die betrokke lid, as professionele jagter, werk doen met vuurwapens wat onder Artikel 16 gelisensieer is op grond van sy toegewyde status by die betrokke vereniging.  Sodanige toegewyde jagter mag dus nie PH-werk aanbied as aktiwiteite ter behoud van toegewyde status nie - slegs sy eie persoonlike jagverwante aktiwiteite mag aangeteken word (verwys basiese beginsels bo).

8.   Rapportering van toegewyde aktiwiteite in die jaar waarin 'n lid toegewyde status by NHSA bekom:  By NHSA hoef toegewyde lede nie in die jaar wat hulle toegewyde status by NHSA bekom, aktiwiteite aan te teken ter behoud van toegewyde status nie, en is hulle status outomaties instand gehou vir daardie jaar, en bevestig tot op 30 November van die daaropvolgende jaar.  Die aanbeveling is egter dat alle aktiwitiete konstant aangeteken moet word tot die lid se eie voordeel.

Ongeag die vereiste dat bewyslas by elke aktiwiteitsaantekening moet geskied, word dit aanvaar dat ons lede verstaan dat elke aktiwiteitsinskrywing so goed is as 'n geswore verklaring wat deur die lid gemaak word, weens die wettelike implikasies wat by die uitreik en behoud van toegewyde status betrokke is. 

Lees die NHSA se wettelike verantwoordelikhede in hierdie verband HIER

-------------------

RAPPORTERING VAN TOEGEWYDE AKTWITEITE

Onthou - jy het die opsie om enige DRIE aktiwiteite in enige kombinasie aan te teken, soos hieronder onder die verskillende indieningshoofde aangedui word:

A   JAGSPESIFIEKE AKTIWITEITE - rapporteer voor 30 November jaarliks

1.   Jagekskursie:   Besonderhede en bewysdokumente

2.   Jag op eie Jagplaas of Wildplaas:  Besonderhede en bewysdokumente

3.   Jagverwante aktiwiteite:  Besonderhede en bewysdokumentee

B   SPORTSKIETSPESIFIEKE AKTIWITEITE - rapporteer voor 30 November jaarliks

1.   NHSA In-Huis Posskiete:  Besonderhede  (aangeteken op jou eie "Scores" blad op jou Natshoot Profielblad - wanneer daar goedgekeur, reflekteer die aktiwiteit outomaties onder "Activities" as 'n goedgekeurde aktiwiteit - moet asseblief nie posskiettellings as "Activities" aanteken nie - dit sal gewoon afgekeur word = gebruik oefenteikens vir teikenskietoefen - laai HIER af).

2.   Jaarlikse NHSA Nasionale Posskietkompetisie:  Besonderhede (aangeteken op jou eie "Scores" blad op jou Natshoot Profielblad - wanneer daar goedgekeur, reflekteer die aktiwiteit outomaties onder "Activities" as 'n goedgekeurde aktiwiteit - moet asseblief nie posskietkompetisietellings as "Activities" aanteken nie - dit sal gewoon afgekeur word = gebruik oefenteikens vir teikenskietoefen - laai HIER af).

3.   Sportskietverwante aktiwiteite:  Besonderhede en bewysdokumente

4.   Nie-NHSA sportskietkompetisie Besonderhede en bewysdokumente

5.   Nie-NHSA sportskietgeleentheid:  Besonderhede en bewysdokumente

C   JAG- EN SPORTSKIETVERWANTE AKTIWITEITE - rapporteer voor 30 November jaarliks

1.   Ontwikkeling van 'n jag- en/of sportskietlading:  Besonderhede en bewysdokumente

2.   Herlaai van jag- en/of sportskietrondtes:  Besonderhede en bewysdokumente

3.   Bywoon van 'n jag- en/of sportskietverwante Expo of Skou:  Besonderhede en bewysdokumente

4.   Bywoon van 'n jag- en/of sportskietverwante vergadering of byeenkoms:  Besonderhede en bewysdokumente

5.   Aanbied van toegewyde verslae van ander vereningings:  Besonderhede en bewysdokumente

6.   Nie-op Lys Aktiwiteite:  Besonderhede en bewysdokumente

7.   Nie-Aktief-verslag:  Besonderhede en bewysdokumente