Vol 11-25 Afrikaans

NHSA Newsletter

VOL. 11 (25) - 26-11-2015

BELANGRIKE VERANDERINGE AAN TOEKOMSTIGE BESTUUR VAN NSA

 

KENNIS VAN BUITENGEWONE ALGEMENE VERGADERING VAN DIE NSA OM GEHOU TE WORD BY DIE WESTERN BARREL INN HOTEL, CHARLOTTE MAXEKE STRAAT 53, (MITCHELSTRAAT), PRETORIA-WES, PRETORIA; OM 19H00 OP 14 DESEMBER 2015

In nakoming van die voorskrifte van Artikels 8.2 & 17 van die NSA Konstitusie, moet die Uitvoerende Raad (UR) ‘n Buitengewone Algemene Vergadering, met 14 dae kennis, byeen roep om verandering aan die administratiewe of finansiële bestuur van die Vereniging te weeg te bring.

NSA is in sy wese ´n Nasionale Vereniging met lede reg deur Suid-Afrika en elders. Dit word dus aanvaar dat alle lede nie gemaklik ´n Buitengewone Algemene Vergadering wat in Pretoria byeengeroep word, sal kan bywoon nie. 

Derhalwe word alle inligting wat tydens gemelde  vergadering aan lede oorgedra sal word, hieronder geskrewe weergegee.

Die Agenda van die vergadering is op die laaste bladsy van hierdie dokument beskikbaar.

 Klik hier vir Padkaart

-------------------------------- 

DOEL VAN, EN INLIGTING WAT TYDENS DIE BUITENGEWONE ALGEMENE VERGADERING GEKOMMUNIKEER SAL WORD 

NSA het oor die afgelope twee jaar´n aansienlike groei in ledetal ervaar wat ´n eksponensiële groei in lidmaatskapfooie ten gevolg gehad het.  NSA is gevolglik  genoop om as BTW ondernemer by SARS te registreer. 

Weens die groei in lidmaatskapfooie het die UR dit ook as voordelig beskou om die huidige administratiewe en finansiële bestuursprosesse van die NSA na die meer gunstige bestuurstyl van ´n Artikel 21 Maatskappy Sonder Winsoogmerk ingevolge die Maatskappyewet van 2008 (Wet 71 van 2008 soos gewysig) te verander. 

Derhalwe is aansoek gedoen vir die registrasie van ‘n Artikel 21 Maatskappy Sonder Winsoogmerk, met Inkomste Belasting Vrystelling, in naam van die National Hunting and Shooting Association NPC (NHSA NPC).  Goedkeuring is ontvang en die NHSA NPC is geregistreer met Registrasienommer  2015 / 278984 / 08, onder die Maatskappyewet, 2008 (Wet 71 van 2008 soos gewysig). 

Registrasie van die NHSA NPC het ook die geleentheid gebied om die naam van die Vereniging van die National Shooting Association na National Hunting and Shooting Association (NHSA) te verander.  Laasgenoemde naam verteenwoordig in alle gevalle die aktiwiteitsdomeine en –verantwoordelikhede van die Vereniging teenoor sy lede en teenoor SAPD (SVR) beter. 

Aansoek is by SAPD (SVR) ingedien en goedkeuring is vir die naamsverandering ontvang. 

SAPD (SVR) het ook die aansoeke vir oordrag van die NSA se akkreditasies na NHSA toe, goedgekeur.

Die Doel met die hou van ‘n Buitengewone Algemene Vergadering is dus om die detail van die gemelde veranderinge aan lede te kommunikeer, naamlik:

a.    Dat die naam van die Vereniging op 1 Maart 2016 van National Shooting Association (NSA) na National Hunting and Shooting Association (NHSA) sal verander, ten einde die aktiwiteite en fokus van die Vereniging meer presies weer te gee.  Die naamsverandering is reeds amptelik deur SAPD (SVR) goedgekeur;

b.    Dat SAPD (SVR) die oordrag van die akkreditasies van die NSA na die NHSA reeds goedgekeur het met behoud van die bestaande VWR (FAR) nommers, naamlik; VWR 1300050 (NHSA as Jagtersvereniging) en VWR 1300088 (NHSA as Sportskietvereniging);

c.    Dat die lidmaatskap van bestaande NSA lede, sowel as die status waaroor lede onder die Vuurwapenwet as geleentheidsjagter en/of geleentheid sportskut, of as toegewyde jagter en/of toegewyde sportskut onder NSA se akkreditasies beskik, op 1 Maart 2016, met behoud van volle regsstatus, outomaties oorgedra sal word na presies dieselfde lidmaatskap en Vuurwapenwet status onder naam van die NHSA as SAPD (SVR) geakkrediteerde Jagtersvereniging en SAPD (SVR) geakkrediteerde Sportskietvereniging;

d.    Dat die NHSA die elektroniese-domeinnaam van natshoot.co.za behou, en dat alle e-posadresse, telefoonnommers, en fisiese kantooradresse behoue sal bly soos wat dit op die Contact Us webblad van die Natshoot webwerf aangedui word – sien Contact Us;

e.    Dat die Uitvoerende Raad dit raadsaam geag het om saam met die naamsverandering na NHSA, aansoek te doen vir die registrasie van ‘n Artikel 21 Maatskappy Sonder Winsoogmerk en met Belastingvrystelling onder die Maatskappyewet, 2008 (Wet 71 van 2008 soos gewysig); ten einde die groei in die administratiewe en finansiële verantwoordelikhede van die NHSA wat gekoppel is aan die aansienlike toename in ledetal, doelmatig te kan bestuur;

f.    Dat aansoek om registrasie onder die naam National Hunting and Shooting Association NPC ingedien is en welke aansoek goedgekeur is met die Registrasienommer 2015 / 278984 / 08 wat aan die Artikel 21 Maatskappy Sonder Winsoogmerk onder die Maatkappyewet, 2008, toegeken is;

g.    Dat die volgende NSA lede deur die UR aangewys is om as eerste Direkteure van die National Hunting and Shooting Association NPC op te tree:  Dr Herman Els [HUB];  Mnr Juan Kotzé [Regsverteenwoordiger], en;  Mnr Robert F Young (Jnr) [Finansiële Oorsig];

h.    Dat die verantwoordelikheid vir die administratiewe en finansiële bestuur van die National Hunting and Shooting Association (NHSA) vanaf 1 Maart 2016 deur die National Hunting and Shooting Association NPC behartig sal word ten einde die voordele wat daaruit voortspruit, vir die Vereniging se lede en vir die Vereniging te bekom;

i.    Dat die groei in ledetal van die NSA ten gevolg gehad het dat die NHSA onderhewig gestel is aan SARS voorskrifte om as BTW ondernemer te registreer.  Weens voortsetting van die NSA beleid om so ‘n lae koste struktuur te handhaaf as wat moontlik is, sal die NHSA egter nie in staat wees om die verhoging in lidmaatskapfooie wat deur die byvoeging van BTW teweeg gebring sal word, te absorbeer nie;

j.    Dat die jaarlikse lidmaatskapfooie vanaf 1 Maart 2016 onvermydelik met die BTW bedrag (14%) ooreenkomstig elk van die lidmaatskapkategorieë soos volg sal moet verhoog:

-     Junior lede (≤20) van R150-00 na R171-00 (R150-00 + R21-00 BTW = R171-00);

-     Gewone lede (21 – 59) van R300-00 na R342-00 (R300-00 + R42-00 BTW = R342-00), en;

-     Senior lede (60≥) van R230-00 na R262-20 (R230-00 + R32-20 BTW = R262-20).

Lede kan navrae rakende die inhoud van hierdie skrywe rig aan [email protected].   Wees asb geduldig in u verwagtinge oor die tyd waarin u die antwoord verwag weens die aantal kommunikasies wat moontlik hieruit mag voortspruit.  U is ook welkom om ook te skakel 012-343-3236 of 012-343-1078.

Dankie vir die tyd wat u aan die lees van hierdie belangrike Nuusbrief bestee het.

 

Vriendelike groete

Herman Els (Uitvoerende Voorsitter: National Shooting Association)

--------------

AGENDA VAN BUITENGEWONE ALGEMENE VERGADERING VAN DIE NSA OM GEHOU TE WORD BY DIE WESTERN BARREL INN HOTEL, CHARLOTTE MAXEKE STRAAT 53, PRETORIA-WES, PRETORIA; OM 19H00 OP 14 DESEMBER 2015 

Verwelkoming. 

Kennis en Kworum. 

Sake voortspruitend. 

Resolusie 1:  Om die naamsverandering van die Vereniging van National Shooting Association (NSA) na National Hunting and Shooting Association (NHSA) te oorweeg en te aanvaar. 

Resolusie 2:  Om die stigting van ´n Artikel 21 Maatskappy Sonder Winsoogmerk en met Belastingvrystelling onder die naam van National Hunting and Shooting Association NPC onder die Maatskappyewet, 2008 (Wet 71 van 2008 soos gewysig) te oorweeg en te aanvaar. 

Resolusie 3:  Om die oordrag van die verantwoordelikheid vir die administratiewe en finansiële bestuur van die National Hunting and Shooting Association (NHSA) aan die National Hunting and Shooting Association NPC, te oorweeg en te aanvaar. 

Resolusie 4:  Om die UR aanwysing van die Direkteure tot die Raad van die National Hunting and Shooting Association NPC, te oorweeg en te aanvaar.

IN OPDRAG VAN DIE UITVOERENDE RAAD

GEREGISTREERDE KANTOOR

Justice Mahomedstraat 1131                         Posbus 190

Brooklyn                                                          Menlyn

Pretoria                                                           Pretoria

0181                                                                0063

 

26 November 2015