Newsletters

Implikasies van die 23 Julie 2020 Appèlhof Uitspraak oor die 2018 GOSA-saak

NHSA NUUSBRIEF

VOL. 16 (39) - 24-07-2020

IMPLIKASIES VAN DIE 23 JULIE 2020 APPÈLHOF UITSPRAAK OOR DIE 2018 GOSA-SAAK

Geagte Lid,

Ons spreek weer eens ons waardering teenoor GOSA uit vir hulle opregte poging om wettige vuurwapeneienaarskap in ons land te verdedig.

Hieronder volg die interpretasie van die Natshoot regsverteenwoordiger,  mnr. Juan Kotzé, aangaande die implikasies van die Appèlhof se uitspraak van 23 Julie 2020 oor die geldigheid al dan nie van die tussentydse hofbevel van die Gautengse Hooggeregshof in die sogenaamde GOSA-saak wat op 27 Julie 2018 deur regter Prinsloo uitgevaardig is.

Die hofbevel van Regter Prinsloo van 27 Julie 2018 kan in die Natshoot Nuusbrief Vol. 14(27) van 11-08-2018, gelees word.

Mnr. Kotzé se aantekeninge lees soos volg:

"Juan Kotzé, ’n prokureur wat in vuurwapenreg spesialiseer het gesê dat die uitspraak wat op 23 Julie 2020 in die Hoogste Hof van Appèl in die GOSA-saak gegee is, ’n baie groot terugslag vir vuurwapeneienaars is.

Die Appèlhof het die tussentydse bevel wat regter Prinsloo op 27 Julie 2018 toegestaan het waarvolgens die Polisie nie teen vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het, hangende die uitslag van die GOSA-hoofaansoek kon optree nie, ter syde gestel. Volgens Kotzé het die tussentydse bevel van 2018 die spreekwoordelike “wolf van die deur af weggehou” aangesien die Polisie verbied is om teen vuurwapeneienaars met vervalle lisensies op te tree.

GOSA se aansoek teen die Polisie het gevolg op die Konstitusionele Hof se beslissing op 7 Julie 2018, toe beslis is dat artikels 24 en 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, wat bepaal dat lisensies net vir ’n bepaalde tyd uitgereik word en minstens 90 dae voor die vervaldatum hernu moet word, wel konstitusioneel is. Die Konstitusionele hof het destyds eenparig  beslis dat vuurwapens, waarvan die lisensies verval het, in onwettige besit is. Die gevolg is dat sulke vuurwapens  nie verkoop of weggegee kan word nie en dit moet by die Polisie ingegee word vir vernietiging.

Na die Konstitusionelehof se uitspraak het die Polisie dadelik gedreig om vuurwapeneienaars met vervalle lisensies te vervolg en het omvangryke  planne in werking gestel waarvolgens sulke vuurwapens by polisiestasies vir vernietiging ingehandig moes word. GOSA het in hulle hofstukke van 2018 aangevoer dat die Polisie nie in staat is om vuurwapens veilig te bewaar nie.

Die effek van die Appèlhof se tersydestelling van die 2018 tussentydse bevel is dat die Polisie nou weer teen vuurwapeneienaars met vervalle lisensies kan op tree.  

Kotzé wys daarop dat dit ’n baie ernstige aangeleentheid is, want indien ’n persoon skuldig bevind word  aan  die onwettige besit van ‘n  vuurwapen, is daar minimum voorgeskrewe vonnisse van tot 15 jaar gevangenisstraf wat vir die onwettige besit van ’n semi- outomatiese vuurwapen (wat 'n pistool insluit) van toepassing.   

Volgens die Polisie se hofstukke was daar ten tye van hul antwoord in 2018, 436 366 vuurwapens waarvan die lisensies verval het. Daar word geraam dat die syfer nou op ongeveer 450 000 vuurwapens staan. Kotzé wys daarop dat dit ongeveer 8 Loftus -stadions vol mense is! 

Dis belangrik om kennis te neem dat volgens die Polisie, daar in dieselfde tyd, ongeveer 1,7 miljoen vuurwapeneienaars was wat wel hulle lisensies voortydig hernu het.

Die Minister van Polisie het vanaf September 2019 ’n proses begin om ’n amnestie deur die parlement te voer. Daar is aan die Parlementêre Portefeulje komitees voorgehou dat ’n amnestie nodig is om onwettige  vuurwapens uit die samelewing te onttrek ten einde ernstige geweldsmisdaad te bekamp. Tydens die debatte het die Polisie toegegee dat daar tydens die vorige amnesties nie ’n enkele vuurwapen wat ingehandig is, met ’n misdryf verbind kon word nie.

Die Polisie het in die debatte om die amnestie te regverdig geen woord gerep dat die Polisie met die amnestie, eintlik die vuurwapens met vervalle lisensies wil teiken nie. Die Parlement het die aansoek vir ’n amnestie goedgekeur en die Minister van Polisie versoek om ’n proses te ontwikkel waarvolgens persone met vervalle vuurwapenslisensies die geleentheid moet kry om hul vuurwapens te herlisensieer.

Toe die amnestie afgekondig is, het dit duidelik geword dat vuurwapens met vervalle lisensies eintlik die teiken van die amnestie is. Die amnestie het wel voorsiening gemaak dat eienaars hul vuurwapens as deel van die amnestieproses kan inhandig en aansoek doen vir nuwe lisensies (nie hernuwing).

Die Polisie het na 'n hofaansoek deur Natshoot om die amnestie nietig te verklaar, hul prosesse verander sodat ’n applikant gelyktydig met die aansoek vir ’n nuwe lisensie ook aansoek kon doen vir hernuwing van die relevante bevoegdheidsertifikaat. As gevolg van hierdie wysiging het die amnestieproses werkbaar geword, alhoewel sulke vuurwapens steeds by die Polisie ingehandig moes word (sien Natshoot Nuusbrief Vol. 16(02) van 17-01-2020)..

Die amnestie het van 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 geloop en slegs ongeveer 30 000 persone het daaraan deelgeneem. Minder as 10 000 het aansoek gedoen vir nuwe lisensies, waarvan slegs enkele aansoeke aan die einde van die amnestie termyn op 31 Mei 2020 afgehandel is.

Dit is duidelik dat die vuurwapeneienaars baie onwillig is om hul vuurwapens met vervalle lisensies by die Polisie in te handig, want dit gaan duidelik baie lank (een jaar plus) neem om ’n nuwe lisensie te bekom, terwyl hul die vuurwapen vir selfbeskerming benodig .

Die  parlement sal na alle verwagting eersdaags ’n nuwe amnestie, wat van 1 Augustus 2020 tot 31 Januarie 2021 sal duur, goedkeur. Daar word verwag dat die bepalings dieselfde as die van die vorige amnestie wat op 31 Mei 2020 ten einde geloop het, sal wees. Vuurwapens sal egter steeds ingehandig moet word.

Die vraag ontstaan wat van nou tot 1 Augustus sal gebeur? Kotzé meen dat daar geen regsbeperking op die Polisie is om dadelik te begin om teen onwettige besitters van vuurwapens op te tree nie (mense met vervalle lisensie). Gegewe die nuwe amnestie, word daar tot die aanvang van die amnestie oor ’n week, egter nie optredes verwag nie Maar dis nie uitgesluit nie.

Die volgende vraag is wat gedurende die “nuwe” amnestie tydperk sal  gebeur?

Volgens Kotzé sal die Polisie waarskynlik tydens die amnestietydperk nie gefokus teen vuurwapeneienaars met vervalle lisensies optree nie ten einde aan hul die geleentheid te bied om vrywillig hul vuurwapens in te handig en aan die amnestieproses deel te neem en aansoek te doen vir ’n nuwe lisensie vir die vuurwapen.

Volgens hom moet daar verwag word dat die Minister van Polisie dreigemente sal uiter oor hoe daar teen diegene opgetree sal word wat nie hul vuurwapens vrywillig inhandig tydens die amnestie nie. Die situasie is volgens Kotzé dat daar op die oomblik geen regsbeskerming vir vuurwapeneienaars met vervalle lisensies bestaan nie.

Wat sal na 1 Februarie 2021 gebeur? Kotzé voorspel dat “die hemel dan op vuurwapeneienaars met vervalle lisensies sal val” na 1 Februarie 2021. Volgens hom is dit duidelik dat besware en persepsies, soos dat die Polisie nie vuurwapens veilig kan berg nie, of dat die proses onbillik is, op dowe ore sal val aangesien dit volgens hom duidelik is dat die Polisie die situasie wil gebruik om vuurwapens in private besit, te verminder.

Kotzé meen dat die situasie baie onbillik is want baie vuurwapeneienaars, wie se vuurwapenlisensies op 4 Julie 2017 nog geldig was (en dit gevolglik nog kon hernu) het as gevolg van die uitspraak van regter Tolmay in die 2016 SA Jagters-saak, bevind dat die bepalings van art 24 en 28 van die Wet (wat voorsiening maak vir die herlisensiëring van vuurwapens) ongrondwetlik is. Duisende vuurwapeneienaars het op grond van die uitspraak, asook mededelings van Polisiebeamptes dat dit a.g.v. die Tolmay-uitspraak nie meer nodig is om vuurwapens te herlisensieer nie, nie hulle lisensies hernu nie.

Hierdie situasie het vir 11 maande tot 7 Junie 2018 geduur tot die Konstitusionele hof bevind het dat lisensies hernu moet word. Ongelukkig het die Konstitusionele Hof of Polisie geen maatreëls in werking gestel om hierdie groep, (“die Tolmay- benadeeldes”) die geleentheid te bied om hul vuurwapenlisensies te hernu nie. Hierdie groep vuurwapeneienaars word sonder skuld aan hul kant ernstig benadeel.

Kotzé wys ook daarop dat die praktiese situasie is dat vuurwapeneienaars wat voor 1 Julie 2009 vuurwapens besit het, maar nooit deelgeneem het aan die hernuwingsproses nie (m.a.w. slegs ‘n ou groen lisensie het), se ou lisensie as steeds geldig beskou word.  Diesulkes (die aanvanklike wetsongehoorsames) is gevolglik in wettige besit en kan daarmee doen wat hul wil (hoef nie ter hernu nie).

Daartenteen is die persoon wat ook voor die inwerkingtreding van die nuwe wet van 2000 ’n lisensie gehad het, maar die wet nagekom het deur aan die hernuwingsproses deel te neem, maar nou weens verskeie redes versuim het om sy nuwe lisensie te hernu, volgens die Polisie se interpretasie van die SA Jagters 2009 interim hofbevel, alhoewel steeds in besit van ’n groenlisensie, in onwettige besit van hul vuurwapens is. Hulle kan sulke vuurwapens nie herlisensieer of verkoop nie. Hul is genoodsaak om dit as deel van die amnestie by die Polisie in te handig en aansoek te doen vir ’n nuwe lisensie.  Indien hul nie bereid is om dit te doen nie, loop hul die risiko om op baie ernstige klagtes vervolg te word.

Volgens Kotzé is dit nie redelik om die aanvanklike wetsongehoorsames in ’n soveel beter posisie te plaas teenoor persone wat die wet wou nakom, maar waarskynlik deur die regsonsekerheid vasgevang is, so ernstig te benadeel nie.

Dit blyk ook dat verskeie Polisiestasies se vuurwapenafdelings tans weens Covit-19 besmetting gesluit is. Persone wat tans lisensies wil hernu, loop die risiko dat hul nie voor die vervaldag gehelp gaan of kan word nie (gevalle waar dit gebeur het is reeds bekend).

Kotzé se advies is dat vuurwapeneienaars moet verseker dat vuurwapenlisensie hernu word voor dit verval. Verder dat jy moet aanvaar dat die Polisie nie beplan om enige toegewings aan vuurwapeneienaars te maak nie".

Einde: --------

Aanvaar die Polisie wil beslis jou vuurwapenbesit beperk en die aantal wat jy het, verminder.

Die beste manier om dit te voorkom is om te sorg dat jou vuurwapens se lisensies en jou bevoegdhede altyd op datum is.

LAAI JUAN SE UITEENSETTING IN PDF-FORMAAT HIER AF

Bly versigtig !!

Natshoot-kantoor