Newsletters

NHSA Persverklaring 10-12-2019: dringende hofsaak om amnestie tersyde te stel

NHSA Nuusbrief

VOL. 15 (32) - 09-12-2019 

NHSA PERSVERKLARING OOR DRINGENDE HOFSAAK VIR TERSYDE STELLING VAN VUURWAPENAMNESTIE

Gewaardeerde Lid,

Hieronder volg die NHSA Mediaverklaring wat die opskrif van hierdie Nuusbrief verduidelik.  Dit is uigereik om in die pers te verskyn op 10-12-2019;

MEDIAVERKLARING

EMBARGO: 10 Desember 2019

NHSA bring dringende hofaansoek om vuurwapenamnestie ongeldig te verklaar

Pretoria - Die Nasionale Jag- en Skietassosiasie (NHSA) het gister 'n dringende aansoek by die Pretoriase Hoogeregshof ingedien om die vuurwapenamnestie wat op 1 Desember 2019 in werking getree het, tersyde te laat stel.

NHSA wil die SAPD dwing om met vuurwapenbelangegroepe in gesprek te tree  ten einde ? sinvolle amnestieproses in werking te stel wat in belang  van wetsgehoorsame burgers is. Oor die afgelope 28 maande wou SAPD glad nie met vuurwapen belangegroepe in gesprek tree nie en is hul planne duidelik om vuurwapen eienaars nie billik te behandel nie

NHSA is daarvan oortuig dat die huidige amnestie niks goeds vir vuurwapeneienaars inhou  nie. Dr Herman Els, uitvoerende voorsitter van NHSA, sê dit is duidelik dat die amnestie as instrument gebruik word om alle vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het, onder onredelike druk te plaas om daardie vuurwapens by die Polisie in te gee. Alhoewel  vuurwapeneienaars binne 14 dae na indiening vir ’n “nuwe lisensie” aansoek kan doen, sal daardie vuurwapen in Polisie besit bly tot die aansoek afgehandel is. Dit sal waarskynlik maande duur en niemand weet hoe die Polisie die aansoek sal hanteer nie, want hul wil, wat hulle beskou as “oortollige” en “ongewensde” vuurwapens, minder maak.

Els wys daarop dat talle vuurwapeneienaars weens omstandighede buite hulle beheer, nie betyds aansoek kon doen vir die hernuwing van hulle lisensies nie. Hierdie mense wil graag hul vuurwapens wettig besit, maar omdat lisensies weens verskeie redes nie betyds hernu is nie en verval het, moet hulle nou daardie vuurwapens tydens die amnestie ingee onder die polisie se verskuilde agenda. Dit is algemene kennis dat die Polisie volgende jaar ’n wetswysiging wil deurvoer waarvolgens die publiek nie toegelaat sal word om vuurwapens vir selfverdediging te besit nie.

“NHSA glo die Wet op die Beheer van Vuurwapens maak voldoende voorsiening om hierdie probleem reg te stel, want dit laat die Nasionale Kommissaris toe om op goeie rede tydperke te verleng sodat persone hul lisensies na die vervaldatum kan hernu, sonder om hul vuurwapens in te handig en as misdadigers behandel te word,” verduidelik Els.

NHSA het talle besware teen die huidige amnestie en die manier hoe dit in werking gestel is;

  • NHSA glo mense is geregtig om hulself met vuurwapens teen gewapende kriminele te verdedig omdat die polisie nie oral kan wees nie;
  • NHSA beskou die amnestie en die voorgestelde wetswysigings as ’n ernstige poging van SAPD om onbeskermde wetsgehoorsame burgers te ontwapen;
  • Dit is onaanvaarbaar dat vuurwapens met vervalle lisensies onder die amnestie by die Polisie ingehandig moet word as eienaars vir “nuwe lisensie” mag aansoek doen. Dit is duidelik dat die polisie nie hulle eie vuurwapens en ammunisie kan oppas nie en dat die publiek se vuurwapens uit die polisie se besit kan “wegraak”;
  • Dit is bekend dat die Polisie tydens die motivering van die amnestie verskeie onwaarhede aan die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Polisie voorgehou het. Die komitee is ingelig dat die amnestie tot ’n afname in geweldsmisdaad sal lei terwyl daar tydens die vorige twee amnesties geen van die 122 783 vuurwapens wat ingehandig is, met enige misdaad verbind kon word nadat al die ballisties toetse afgehandel was nie;
  • Dit is hoogs onwaarskynlik dat enige misdadiger ? vuurwapen sal inhandig ingevolge die voorwaardes van die amnestie, aangesien hulle maklik opgespoor kan word indien die vuurwapen wel vir misdaad aangewend is;
  • Daar is ook aan die Parlementêre Portefeuljekomitee vertel dat die Polisie nie die amnestie aankondig om vuurwapeneienaars met vervalle lisensies te teiken nie, terwyl dit blyk dat die Polisie met hierdie amnestie juis hul oog het op die ongeveer 450 000 vuurwapens met vervalle lisensies wat in daardie groep val;
  • Die Polisie het die Parlement oor belangrike aspekte mislei en die korrekte prosedure vir die aankondiging van ’n amnestie nie  nagekom nie.

 

Die NHSA het sedert die Vereniging 15 jaar gelede by die implementering van die Vuurwapenwet betrokke geraak het, in vuurwapenkringe en onder belanghebbende SAPD-lede daarvoor bekend geword om eerder in gesprek te wil tree en goeie verhoudinge met SAPD oor vuurwapenbeheer na te streef, as om in konflik met SAPD oor vuurwapenadministrasie te wees.

NHSA het in middel November vanjaar ’n skrywe aan die Minister van Polisie en die Nasionale Kommissaris gerig en ’n ander aan die Voorsitter van die Parlementêre Komitee vir Polisie, waarin versoek is om dringend met hulle in gesprek te tree oor die amnestie en ander vuurwapenverwante aangeleenthede.  Nie eers ontvangserkennings van die skrywes is terug ontvang nie.

In die lig van die openlike dreigemente van die Minister om mense te arresteer en te vervolg indien hulle nie hulle vuurwapens met vervalle lisensie tydens die amnestie inhandig nie, saamgelees met die Polisie se onwilligheid om oor die afgelope 28 maande met vuurwapenbelangegroepe in gesprek te tree, sien die NHSA geen ander uitweg as om ’n dringende hofaansoek te bring om die amnestie ter syde tel laat stel en die polisie in sinvolle gesprekke met vuurwapenbelangegroepe oor vuurwapenaangeleenthede in te dwing nie.

“Ons vra die hof om opdrag te gee dat die Polisie nie weer by die Parlement aansoek mag doen vir ’n amnestie totdat daar nie behoorlike konsultasie met die geïgnoreerde vuurwapenbelangegroepe was nie. Dit is ontstellend dat die polisie egter voortdurend in gesprek is met siviele groepe, soos Gun Free South Africa, wat op rekord is dat hulle die private besit van vuurwapens geheel en al wil laat verbied.” sê Els.

Die NHSA se hofstukke vra verder dat die Hof die Polisie moet verbied om enigiemand te arresteer of te vervolg vir die besit van vuurwapens waarvan die lisensie verval het, totdat ‘n nuwe onderhandelde amnestie afgekondig is.

“Die Minister weet sy amptenare kan nie oral wees om die publiek teen geweldenaars te beskerm nie. NHSA versoek die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, om gewoon sy plig na te kom en nie weerlose wetsgehoorsame landsburgers aan gewelddadige kriminele uit te lewer omdat hy hulle vuurwapens van hulle af weggeneem het nie”, sê Els.

Els beveel aan dat persone wat beplan om aansoek te doen vir ’n lisensie onder die amnestie, nie in hierdie stadium vuurwapens as deel van die amnestie ingee totdat die uitslag van die hofsaak bekend is nie. “Dit  bly natuurlik mense se eie besluit om nou reeds vuurwapens onder die amnestie by SAPD in te handig”, sê Els.  Die uitspraak in die hofsaak word binnekort verwag.

“Persone wat wel van hul vuurwapens vir vernietiging wil inhandig, kan dit by hulle naaste polisiestasie gaan ingee teen geskrewe bewys sodat die vuurwapen teen hulle name verwyder kan word. Onthou om ook die ammunisie vir die betrokke vuurwapen in te handig anders is u onwettig in besit daarvan as u nie ’n ander vuurwapen in daardie kaliber besit nie. Dit is waarskynlik selfs beter om die ammunisie aan ’n vriend te skenk wat oor ’n geldige lisensie vir dieselfde kaliber vuurwapen beskik,” sê Els.

"NHSA beklemtoon dat vuurwapens ook wettig as jag- en as sportskietvuurwapens gebruik word.  Daar is geen noodsaak om vuurwapens vir selfverdedging, jag en sportskiet te konfiskeer slegs om die standpunte van Gun Free South Africa te bevredig nie.  Hierdie vuurwapens is nie die onwettige vuurwapens wat deur krinimele gebruik word om die lewens van ons geliefdes te bedreig of te neem nie.

NHSA kan nie toelaat dat sy lede en ander wetsgehoorsame vuurwapeneienaars op hierdie manier behandel of ontwapen word nie. Alle vuurwapeneienaars is nie kriminele nie”, het Els gesê.

 

Die einde

Uitgereik deur die Nasionale Jag- en Sportskietassosiasie (NHSA)